DIS genoeg om enige pa bewoë te maak as hy sy dogter – nou die dag nog ’n lelike eendjie met ’n kop vol rooi krulle en draadjies aan haar tande – op haar troudag in wit voor hom sien staan soos ’n pragtige, jong swaan.

En op Chelsea Clinton se groot dag het haar pa soos enige pa van die bruid se oë vol trane geskiet toe sy, beeldskoon in ’n skouerlose Vera Wang-skepping, haar troubeloftes aflê.

Sy enigste kind se spogtroue langs die Hudson-rivier in New York was vir oudpres. Bill Clinton van Amerika ’n bittersoet geleentheid.

Sy eie reputasie as rokjagter is nog lank nie vergete nie en van die poniekoerante het vooraf gespot: ‘‘Hou hom net weg van die dosyn blommemeisies!’’

Ook Chelsea se nuwe skoonpa, Edward Mezvinsky, ’n voormalige kongreslid, se verlede het hom ingehaal toe die skinderblaaie ’n paar dae voor die ‘‘Amerikaanse koninklike troue’’ soos hulle die geleentheid gedoop het, die vyf jaar lange tronkstraf vir bedrog opgehaal het waarvoor hy in 2001 gevonnis is. Hy is nog op parool.

Maar op die ou end is al die vuil wasgoed van die verlede vir ’n wyle agterweë gelaat en kon Chelsea (30) en Marc Mezvinsky (32), ’n bankier, op hul troudag skitter. Die twee ken mekaar al sedert hul skooldae in Washington en was saam op Stanford-universiteit, maar het eers vyf jaar gelede begin uitgaan.

Soos enige trotse ouerpaar het Bill en sy vrou, Hillary, deesdae die Amerikaanse minister van buitelandse sake, van begin tot einde gestraal – selfs toe Chelsea per ongeluk haar ring laat val het en die predikant moes help om die volgende vers in die Bybel te onthou nadat die wind die bladsye toegewaai het.

Lees meer oor Chelsea se troue en sien al die foto's in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010