OP LOSSKAKEL is hy die Vrystaat se komkommerkoel stelskopper, die no. 10 wat die punte opstapel.

Met sy goue voet was Louis Strydom vanjaar die top-puntemaker in die Vodacombeker, en in sy eerste twee Curriebeker-wedstryde van die nuwe seisoen het hy reeds 14 punte vir die Cheetahs opgestapel.

Maar lekkerder as enige prestasie wat hy al op die veld behaal het, was die oomblik toe die meisie van sy drome, Isolde Jantzen (25), vir hom die jawoord voor die kansel gegee het.

Die trouery was verlede maand by die Lechwe Lodge net buite Kroonstad en hy was nie eens ’n titseltjie senuagtig nie, net baie opgewonde, vertel Louis. Maar toe sy aanstaande na hom aangestap kom, het hy wel ’n traan gestort, erken hy skaam. ‘‘Jy lyk mooi,’’ het hy vir sy bruid gefluister.

Louis se goeie rugbyvriende, soos Jano Vermaak van die Leeus en die Cheetahs se Meyer Bosman, Richardt Strauss en Heinrich Brussow, was onder die 250 gaste wat saam met die paartjie kom vier en saam geglimlag het oor die bruid se vreemde troukoek – in die vorm van ’n korset!

‘‘Ek het ’n prentjie daarvan in ’n tydskrif gesien en moes dit net eenvoudig hê,’’ vertel Isolde waar ons kort ná die nuwe Strydom-egpaar se terugkeer van hul wittebrood in Mauritius by hul nessie net buite Bloemfontein kuier.

Hulle kan nie uitgepraat raak oor die wit strande, die spa en helder blou waters van die La Plantation Resort waar hulle ’n week lank uitgespan het nie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 Julie 2010.