AS JY verdwaal op die groot veiligheidslandgoed waar Juan Smith bly, kan jy altyd stilhou en aanwysings vra. ‘‘O ja, hy woon aan die einde van die volgende straat,’’ sal ’n hulpvaardige inwoner met ’n glimlag vir jou sê. Dis dié gemeenskapsgevoel wat die Cheetahs se hoofkryger in Bloemfontein hou.

Juan (28) wag ons in by sy voordeur, gemaklik geklee in ’n spierwit hemp en jeans. Binne hardloop sy dogtertjie, Caylin (21 maande), deur die lugtige leefvertrek. Ma Caroline, ses maande swanger, het haar man se hulp nodig om die klein karnallie vas te trek.

Voor ons staan een van die heel beste flanke op aarde, ’n man wat in enige span ter wêreld kan instap. Maar al het ander unies hom al dubbel sy huidige salaris aangebied, het Juan pas maar weer ’n kontrak by die Cheetahs onderteken. ‘‘Ek is deur en deur ’n Bloemfonteinse boytjie; ek sal waarskynlik hier in Bloem doodgaan. Hulle gaan my nog eendag hier begrawe,’’ sê hy.

Die dood is ’n onderwerp wat nog vars in sy geheue is. Dit is maar drie maande sedert sy pa, Giel, aan slenkdalkoors dood is.

Juan het weke tevore nie vir sy span in die Super14-reeks uitgedraf nie om by sy pa se siekbed te wees. Toe sê die dokters Giel is aan die beter word; Juan kan sy span maar weer gaan aanvoer in Canberra teen die Brumbies.

Nog voor hy daar kon speel, het die skoknuus gekom: Giel is onverwags oorlede. Juan kon nie by sy pa se sterfbed wees nie, en die pyn lê nog vlak.

Dit was ook in dié tyd, toe sy pa se siekte en dood hom van die veld weggehou het, dat die wêreld weer gesien het presies wat die Cheetahs aan hul kaptein het.

Ná ’n goeie begin in vanjaar se Super14-reeks waarin die Cheetahs die Sharks en die Hurricanes geklop het, het die wiele afgeval en die span het vyf wedstryde op ’n streep verloor – net mooi toe Juan weens sy pa se siekte van die veld af was.

Maar toe hy terugkeer, het hy nuwe lewe in die Cheetahs se flou beendere geblaas, en dit was asof hulle skielik ’n heel nuwe span was.

Hulle het teen die Highlanders in Nieu-Seeland gelykop gespeel en toe hul laaste drie wedstryde op ’n streep gewen. Alles, sê die rugbykommentators en Juan se spanmaats, danksy die kaptein se besielende leiding.

Juan druk Caylin ’n bietjie stywer vas voor hy verduidelik waarom hy besluit het om so kort ná sy pa se begrafnis weer vir die Cheetahs uit te draf. ‘‘Dit was vir my belangrik om my pa te eer, want ek weet dat hy oor my gewaak het,’’ sê die diep gelowige flank.

Hy glimlag vir sy dogter en neem Caroline se hand in syne. Hy put krag daaruit om sy mense om hom te hê. ‘‘Rugby was net soveel my pa se droom as myne. Dit was die laaste geskenk wat ek hom kon gee. Dit het my ook krag gegee.’’

Lees die volledige artikel en sien meer foto's in die Huisgenoot van 17 Junie 2010