HY SIT rustig, voete op die koffietafel, lekker ontspanne.

Hy kan maar – hy het immers vanjaar al vyf drieë in die Curriebeker-toernooi aangeteken. En dis maar net die hoogtepunt van ’n rits skittervertonings in Coenie Oosthuizen se deurbraakjaar.

Die Cheetah-stut (21) se ontwerper-T-hemp span oor sy armspiere hier op die rusbank in sy woonstel in Wilgehof,

Bloemfontein. Die seunsgesigspierpaleis laat die vertrek skoon klein voel; hy trek immers die skaal op 127 kg. Hy borrel van selfvertroue en lag maklik vir homself – ook wanneer jy praat van die voorspellings dat hy ’n Springbok sal word.

Nie dat hy nie dink sy prestasie dié seisoen regverdig ’n kans om eindelik die Groen-en-Goud oor sy kop te kan trek nie. ‘‘Dis ’n groot eer, maar dis nie waaraan ek dink nie. Ek stel vir myself persoonlike doelwitte. Vanjaar s’nwas om in die beginspan van die Cheetahs te wees. Die res spruit daaruit.’’

Hy praat met passie, kies sy woorde versigtig, maar sê sy sê.

Hy glimlag toe Os du Randt se naam opduik. Os rig hom af by die Cheetahs, hy is die maatstaf waarteen Coenie homself meet.

‘‘Ek bewonder Os. Hy weet wat dit verg om die beste te wees.

Daarom is alles wat hy sê vir my wet. Hy het op 21 ’n Springbok geword en daarom moet ek vanjaar die span haal.’’

Hy wag ’n oomblik voor hy vol vertroue byvoeg: ‘‘Ek het nog nooit nie ’n doelwit bereik wat ek vir myself gestel het nie.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 14 Oktober 2010