Dis kort voor haar troue en die sangeres Charlize Berg word behoorlik bederf.

Haar strooimeisies en ma het haar die afgelope naweek op ’n kombuistee by Castello di Monte in Waterkloof, Pretoria, getrakteer. En net die week vantevore was dit haar henneparty!

“Dit was baie spesiaal. ’n Mens voel so oorweldig as mense uit hul pad gaan om moeite vir jou te doen,” vertel die blondekop.

“Ons is besig om ons werklikheidsreeks, Die Bergs, te verfilm; daarom het ek geweet my kombuistee gaan die naweek plaasvind. Maar ek het nie geweet wat dit behels, waar dit gaan wees of wat die tema is nie.

“Ek is gek oor enigiets wat blink. Ek het die mooiste blink uitrusting gekry om aan te trek en almal wat daar was, het volgens die tema aangetrek en behoorlik geblink – selfs die tannies,” lag Charlize.

Sy het ’n hooftooisel van blomme op haar kop gedra. “Ek het dit ook by my henneparty gedra, want ons troue se hele tema is blommekind met tiksel glans.”

Die kombuistee se lekker kos was nog een van Charlize se vele hoogtepunte.

“Ons het ’n driegangontbyt geëet wat begin het met jogurt en vrugte, gevolg deur ’n lekker boereontbyt en toe het ons vir poeding wafels van verskeie geure gekry.”

’n Week voor haar kombuistee het sy en haar vriendinne ook haar henneparty by Movida in Johannesburg gevier.

“Dit was een van die beste aande van my lewe. Ons het in ’n sitgebied gekuier waar ’n klomp toekomstige bruide feesgevier het en gedans tot die son opgekom het.”

Haar troudag is om die draai.

“Dis nogal skrikwekkend omdat nog so baie op my lys is wat gedoen moet word, maar ek kom daar. Die skoenlappers vlieg nou wild in my maag rond.

“Ek het besluit ek gaan op die dag net afskakel, oorgee en alles geniet.”

In die Bergs gaan kykers ’n kykie kry in Charlize se lewe as kunstenaar en ook haar sterk steunnetwerk en die dinamika tussen hulle leer ken. Hulle is nog besig om die reeks te verfilm.

Haar verloofde, Warren Linden, ma en bestuurder, Ilse, pa, Petrus, tweelingbroer, Jaco, kleinboet, Markus, en dié se meisie, Rochelle Snyman, gaan almal in die reeks te sien wees.

Kykers sal ook sien hoe die sangeres haar loopbaan en persoonlike lewe balanseer – sy beplan immers nog aan haar troue, haak eersdaags af en vertolk die hoofrol in die pantomime Doringrosie wat van 5 Mei in Emperors Palace in Gauteng opgevoer word.

Die Bergs begin op Woensdag 19 April om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147).