Die Million Ways to Die in the West-aktrise het Jackson twee jaar gelede aangeneem en sê moederskap was vir haar ’n “natuurlike verandering”.

Sy het aan die Mail on Sunday se tydskrif Event gesê: “Dis ’n pragtige, natuurlike verandering.

“Jackson is natuurlik nou my prioriteit. As ek vrye tyd het, is hy die een wat dit kry.

“Nie omdat ek moet nie, maar omdat ek nie kan wag om by hom te wees nie. Hy is die nommer een in my lewe.”

Die ster, wat in Februarie met Sean Penn begin uitgaan het, sê ook sy dans nou weer meer.

Sy sê: “Ek dans steeds elke dag in my woonkamer. Daar word nou gereeld in my huis gesê: ‘Mamma, kom ons dans.’ ”

Charlize sê wanneer sy nie saam met haar gesin ontspan nie, maak sy graag tyd vir haarself, want dit gee haar kans om op die hoogte te kom van musiek en boeke wat sy dalk misgeloop het.

Sy voeg by: “Ek hou daarvan wanneer ek iewers werk en ’n bietjie tyd vir myself in die woonwa kry.

“Ek deel gedurig goed met my vriende en dis gewoonlik hoe ek my musiek kry. Ek het onlangs na Pharrell Williams se album geluister en dink dit is regtig goed.

“En ek lees graag. Ek het pas weer Outliers deur Malcolm Gladwell gelees, die boek oor statistiek en syfers, en die toeval – of dis nie ’n toeval nie – dat verjaardae ’n rol in sukses speel. Dis fassinerend.”