Charlize Theron is vies dat sy weer haar hare moet afskeer noudat haar seunstyl eindelik uitgegroei het.

Die 38-jarige aktrise is aangesê om weer haar hare kort te skeer om sekere tonele vir die nuwe fliek Mad Max 4: Fury Road oor te skiet.

Die Suid-Afrikaanse boorling sal saam met haar medesterre Tom Hardy en Rosie Huntington-Whiteley na Namibië terugkeer om haar rol as Imperator Furiosa in die postapokaliptiese fliek te hervat.

’n Bron het aan die Daily Mirror gesê: “Charlize was nie dol oor die kortkop nie en was baie bly toe dit eindelik uitgroei. Dit is nou op ’n lekker lengte waarmee jy iets kan uitrig en sy was trots daarop om daarmee te spog.

“Maar vroeë gehoortoetse het getoon rolprentgangers is nie juis beïndruk met ’n paar van die tonele nie. Die regisseur en skrywers het toe weer bymekaargekom en ’n paar belangrike veranderinge aangebring. Natuurlik wil hulle hê alles moet volmaak wees, want dis ’n peperduur rolprent.

“Charlize is vanselfsprekend kontraktueel verplig om enige verandering aan die fliek an te bring en sal binnekort weer haar hare afskeer. Sy is verslae. Dit beteken ook nog uitmergelende oefensessies om haar lyf weer so atleties te kry soos ’n jaar gelede.”

Dis verrassende nuus, want die verfilming van Mad Max 4 is aanvanklik al verlede Desember afgehandel.

Die oorspronklike fliek van 1979, wat Mel Gibson se loopbaan ’n hupstoot gegee het, is destyds gekritiseer oor die tonele met grafiese geweld.