Staan opsy Charlize Theron, daar is ’n nuwe Charlize op die toneel. En haar van is ’n goeie aanduiding van die potensiaal wat in dié opkomende ster skuil.

Want Charlize Berg, die 19-jarige blonde bom van Raslouw in Centurion, het ’n groot sangtalent, ’n talent wat mense dubbel haar ouderdom haar beny.

Haar duet saam met Heinz Winckler, You and I, is reeds weke op die trefferlyste en sy het ook al saam met groot name soos Kurt Darren, Jakkie Louw en Kevin Leo liedjies opgeneem.

“Dis ongelooflik; ek kan dit nog skaars glo!” sê die fyn meisie met die groot blougroen oë.

“Voorverlede jaar nog het ek maar in klein saaltjies en restaurante opgetree en toe skielik – boem! – sing ek verlede jaar by Kurt se verjaardagpartytjie by die Innibosveldfees net buite Mookgophong.”

Toe volg die duet vanjaar met Heinz, wat eintlik vir M-Net se Valentynsdagveldtog opgeneem is.

“Ons was so vinnig by die ateljee in en uit en het die video sommer op dieselfde dag geskiet. Toe kry dit sulke goeie reaksie by die kykers dat dit as ’n enkelspeler uitgereik is. Nou is dit ook op my debuutalbum en op Heinz se nuwe album, wat later vanjaar uitgereik word.”

Charlize se album is sedert April op die rak, en dié selfgetitelde CD was kort ná sy uitreiking al op winkels se topverkoperlyste.

“Dis ’n lekker popmusiekalbum vir die jonger mark, maar dit het ’n meer internasionale klank. Dit het my die kans gegee om te wys wat ek met my stem kan doen, maar het ook lekker doef-doef-kuiermusiek op.”

Charlize het die album verlede jaar so tussen haar matriekjaar aan die Hoërskool Eldoraigne in Centurion deur opgeneem en moes bontstaan om haar loopbaan en skoolwerk te kombineer.

Maar hou maar die domblondine-grappies. Ondanks als het sy ’n gemiddelde van bo 70 persent gehandhaaf.

“As dit nie vir my vriendinne en kêrel, Warren Linden, was nie, sou ek nooit matriek deurgekom het nie. Ek was dikwels afwesig weens optredes en ateljeeopnames, en dan het hulle my skoolwerk by die onderwysers gekry enmy met my huiswerk gehelp.”

Maar nou is skool verby en kan sy net op haar sang fokus, soos sy nog altyd wou.

“Ek droom al van kleins af daarvan en is so bly dit werk nou uit. Ek wil niks anders doen nie!”

Lees meer in die Winter-uitgawe van Huisgenoot-Tempo. 

Volg Huisgenoot op Twitter.