Die akteur (47), wat die terapeut Charlie Goodson in die sitkom speel, het Maandag 17 Junie vir die vervaardigers gesê hy gaan sy goed vat en waai tensy hulle Selma, wat die rol van dr. Kate Wales vertolk, dadelik afdank.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê Charlie meen Selma (40) kritiseer agter sy rug sy werksetiek.

Die bron het bygevoeg Charlie aanvaar dis nie so maklik om iemand so skielik af te dank nie, maar hy wil hê die program se base moet solank begin dink aan ’n manier om Selma se karakter uit die storie te skryf.

Selma was nie Maandag op die stel nie en het gesê sy is in die duister oor haar moontlike afdanking. “Ek weet niks nie,” het sy gesê.

Die netwerk FX se base voer glo nou samesprekings en skarrel om ’n oplossing te vind.

Die uitgesproke Charlie, wat in 2011 uit Two and a Half Men geskop is nadat sy molesmakery buite beheer geraak het, dring glo daarop aan dat Selma met Mila Kunis (29) vervang word. Hy het glo ’n storielyn van 10 episodes met Mila voorgestel en die Ted-aktrise sal R10 miljoen per episode aangebied word. (Toevallig het Mila se kêrel, Ashton Kutcher (35), ’n rol in Two and a Half Men gekry nadat Charlie daar weg is.)

Charlie, wat glo tussen R750 miljoen en R2 biljoen sal verdien as hy die beplande 100 episodes vir die reeks voltooi, het reeds in sowat 50 episodes van Anger Management verskyn.