Charlie Sheen wil glo ophou om maandeliks R550 000 onderhoud te betaal noudat die ma van sy tweeling in ’n rehabilitasiesentrum is.

Die akteur (47) dink dis belaglik dat hy elke maand soveel aan sy derde eksvrou, Brooke Mueller (35), moet betaal noudat sy behandeling kry vir haar dwelmverslawing. Charlie en Brooke het ’n vierjarige tweeling, Max en Bob.

Volgens TMZ.com het Charlie verlede week by die hof dokumente ingedien waarin hy vra dat die betaling opgehef word omdat sy tweede eksvrou, Denise Richards (42), nou na die tweeling omsien.

Charlie glo Brooke gebruik die R550 000 per maand om haar rehabilitasie te betaal. Voorheen het hy wel daarvoor opgedok, maar nou wil hy ophou.

Brooke is al sedert Desember in en uit die kliniek; sy het die Betty Ford-sentrum ná net 30 dae verlaat en is nou glo in ’n kliniek in Orange County wat haar glo beter pas.

’n Ingeligte sê Brooke sal haar sokkies moet optrek as sy ooit weer toesig oor Bob en Max wil hê.

Die bron verduidelik: “Nadat Brooke ontslaan word uit die rehabilitasiekliniek, moet sy dadelik haar kontakbesonderhede vir ’n maatskappy gee wat dwelmtoetse uitvoer. Sy kan haar dan maar reghou vir minstens twee onverwagte dwelmtoetse per week.

“Dit sal ook teen haar tel as sy nie opdaag vir toetse nie. Sy gaan ouerskapsklasse moet voltooi en gaan moet bewys sy woon minstens een 12-stap-vergadering per week by. Boonop sal sy die tweeling onder ’n maatskaplike werker se toesig moet sien. Brooke gaan regtig moet uithaal en wys om haar seuns terug te kry.”

Die hof gaan einde Julie besluit of Denise ’n verdere ses maande lank die tweeling se voog gaan wees.