Die ster van Anger Management is in ’n bitter toesigstryd gewikkel met sy eksvrou oor hul vierjarige tweeling, Bob en Max.

’n Bron het aan TMZ.com gesê die akteur het “dankie” gesê nadat daar aan hom gesê is hy mag nie binne 180 m van Brooke (36) wees of kontak met haar maak nie. Die regter het ook beveel Charlie, Brooke en Denise Richards, wat omsien na die seuns sedert Brooke in Mei rehabiltasie ontvang het, mag nie oor die saak praat nie.

Charlie (48) is nie gestraf omdat hy voorheen die departement van kindersake en gesinsdienste gekritiseer het omdat hulle meer behep is met Brooke en haar nugterheid as die welvaart van hul kinders nie.

Die regter het ’n versoek verwerp van Brooke en haar prokureurs om Charlie se besoekregte aan die tweeling op te skort. Die oudster van Two and a Half Men het vantevore gesê niks sal in sy pad staan om sy kinders te beskerm nie.

“Wat ek en my familie die laaste vier jaar gedwing is om te verduur, is ver verwyderd van enige aanvaarbare gedrag of ordentlikheid,” het hy gesê. “Ek baklei teen ’n vyand wat vinnig ontmagtig moet word. Daar is geen mag, geen mens en geen scenario in die heelal wat my sal laat afsien van my doelwit nie.”

Charlie het so uitgevaar nadat sy ander eksvrou, Denise, ’n ontstellende brief aan die departement geskryf het om hulle in te lig dat sy nie meer na Bob en Max kan omsien nie weens hul gedrag teenoor haar troeteldiere, haar en Charlie se dogters, Sam (9), Lola (8), en haar aangenome dogter, Eloise (2).