Skinderblaaie regoor die wêreld het die afgelope paar weke bespiegel oor wie die ster is wat MIV-positief is. Die Britse koerant The Sun het die tonge laat klap nadat dit ’n artikel geplaas het oor die A-lys-akteur, wie se naam nie genoem is nie, wat glo “paniek” in Hollywood veroorsaak.

Die akteur wou nie die gerugte bevestig nie, maar die vername Hollywoodse reklameagent en krisisbeheerbestuurder, Howard Bragman, het die gerugte aangevuur deur ná die aankondiging aan die tydskrif People te sê mense na aan Charlie het hom ses maande terug genader om te help met die krisis, maar dat hy nooit direk met die ster gewerk het nie.

“Die onderhoud kan baie simpatie vir hom ontlok, maar hy is waarskynlik bekommerd dat voormalige seksmaats hom sal wil dagvaar,” het Howard gesê. “’n Mens neem nie so iets ligtelik op nie.”

Hy’t bygevoeg dat Charlie behandeling ontvang en dat diegene na aan die voormalige ster van Anger Management weet van sy gesondheidsprobleme.

“Dit gaan al ’n ruk lank aan. Hy’s nie noodwendig gemaklik om daaroor te praat nie. Dit was baie moeilik vir hom om die moed bymekaar te skraap om daaror te praat. Ek weet al vir ’n ruk lank hiervan, dis nie vir my ’n verrassing nie. Ek voel jammer vir hom en die pyn wat hy deurmaak. En ek hoop die wêreld leer iets hieruit. Dis ’n siekte wat enigeen kan raak.”

Jeff Ballard, Charlie se jarelange reklameagent, het ook met die tydskrif gepraat en gesê die akteur is nie meer sy kliënt nie. “Ons het verskil oor hoe om die situasie te hanteer en ons paaie het geskei. Ons was vir 35 jaar lank vriende en ek het hom lief. Ek wens hom net die beste toe.”

© Cover Media