Dié akteur, wat in 2015 bekendgemaak het hy is MIV-positief, het onlangs ook gesê hy neem deel aan ’n studie deur die Amerikaanse Food and Drug Administration oor die uitwerking van die middel PRO 140.

Hy het aan Extra gesê hy het pas die agtste week van die behandeling voltooi en dat dit een inspuiting per week behels, eerder as ’n klomp pille elke dag. Charlie het gesê hy kry ook nie meer kwaai hoof- of maagpyn soos tydens sy vorige behandeling nie en hy glo PRO 140 gaan voortaan vir die behandeling vir mense met MIV gebruik word.

Lees ook: Charlie Sheen maak hart oop oor MIV-gerugte

Die 50-jarige ster neem sy gesondheid deesdae ernstig op; voorheen het hy wild partytjie gehou, baie gedrink en dwelms gebruik. Charlie het vertel hy het een oggend wakker geword en besluit hy verdien beter. Hy het begin oefen, ’n gesonde dieet begin volg, opgehou om dwelms te gebruik en minder begin drink.

Hy help ook ander om hul verslawing te oorkom en bemark ’n nuwe reeks kondome. Hy hou vol die handelsmerk Lelo bring die eerste keer in 70 jaar ’n verandering teweeg wat kondome se aantrekkingskrag en ontwerp betref en het spottenderwys gevra of ’n man met vyf kinders, ’n kleindogter en MIV nie eerder kondome behoort te koop as om dit te verkoop nie.

Lees ook: Charlie Sheen voel ‘ongelooflik’ vandat hy nuwe MIV-behandeling beproef

Tog reken hy die vennootskap het sin – hy is die beste mens om oor die belangrikheid van kondome te praat, asook die stigma wat al so lank daaraan gekoppel word. Charlie het ook gesê hy het al van die nuwe kondome gebruik en beskou dit as ’n fantastiese produk wat baie natuurlik voel.

Die ster, wat al drie keer getroud was en verloof was aan die porno-ster Brett Rossi, het ook gesê hy het nie in hierdie stadium iemand spesiaals in sy lewe nie; hy spits hom toe op sy gesondheid en om vir sy familie te sorg.

Tydens die onderhoud het hy ook gesê hy sal eerder in gewone klere op die maan loop as om weer voor die kansel te staan. Volgens hom moet ’n mens nie aanhou met iets waarin jy sleg vaar nie.

© Cover Media