Die onderhoud wat Charlie Sheen aan Brooke Mueller vir sy kinders betaal, is gehalveer.

Die ster van Anger Management het ’n nuwe ooreenkoms met sy eks, Brooke Mueller, se prokureurs aangegaan. Sy maandelikse onderhoud van R550 000 is met die helfte verminder terwyl sy en Brooke se tweeling, Bon en Max (5), in Denise Richards se sorg is.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “’n Skikking tussen Charlie en Brooke se prokureurs is deur middel van ’n tussenganger buite die hof bereik. Die nuwe onderhoud is R250 000 per maand, aangesien die tweeling nie by Brooke woon nie. Wanneer die regter van die kinderhof die seuns aan Brooke teruggee, sal Charlie dadelik weer die volle bedrag betaal.

“Brooke is natuurlik nie bly hieroor nie, maar weet dat sy in ’n hofsaak waarskynlik geen geld sou kry nie. Sy wil so gou moontlik die kinders terughê om die volle bedrag onderhoud te kry.”

Charlie Sheen het onlangs ’n luukse huis vir Brooke gekoop in dieselfde buurt as sy eks, Denise. Denise het tydelike toesig oor die tweeling gekry toe Brooke vroeër vanjaar in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem is. Die sosiale vlinder sal na verwagting binnekort weer toesig oor haar kinders kry.