Ag nee! Charlie Hunnam (33) gaan nie meer die hoofrol van Christian Grey in die rolprentweergawe van E.L. James se erotiese roman Fifty Shades of Grey vertolk nie.

“Charlie het koue voete gekry,” vertel ’n bron. “Hy wou nie meer die fliek doen nie, want hy het gevoel dit sou sy weergawe van Showgirls wees en hy wou nie daarvoor onthou word nie.”

Charlie “haat” dit om in die kollig te wees, vertel ’n ander bron. Al die aandag wat hy weens die rol gekry het, het glad nie goed afgegaan met die Brit nie, en waarskynlik ook nie die feit dat baie aanhangers van die boek gal gebraak het oor hy die rol losgeslaan het nie.

Charlie, wat bekend is vir sy rol in die TV-reeks Sons of Anarchy, beweer nou sy besige TV-skedule sal hom nie genoeg tyd gee om vir die rol van Christian Grey voor te berei nie. Klink maar vir ons na ’n flou verskoning.

Hy het glo nie uitgesien na al die bemarking wat hy vir die fliek sou moes doen nie. “Dis nie sy ding nie. Charlie wil nie baie beroemd wees nie. Hy haat dit om te konformeer en om voorgesê te word wat om te doen. Dié rol sou hom dwing om iets te wees wat hy nie is nie,” vertel die bron.

Die rolprentmakers soek nou ’n ander akteur vir die hoofrol. Wie dink jy moet die rol van Christian Grey vertolk?

BRONNE: ENEWS.COM, HOLLYWOODLIFE.COM

Ons keuses

Ryan Gosling

Die 32-jarige akteur was glo die “oorspronklike prototipe” vir die rol, maar het nie belanggestel nie. Ons hoop stil-stil hulle kan hom van plan laat verander.

Matt Bomer

Die Magic Mike-ster was aanhangers se gunstelingkeuse. Hulle het selfs ’n petisie op Change.org begin om Matt (36) in die rol te kry.

Robert Pattinson

Die 27-jarige Twilight-akteur is ’n goeie vriend van die skrywer, E.L. James, en hy was glo haar eerste keuse.

Ian Somerhalder

Daar is al maande lank gerugte dat Ian (34) die hoofrol gaan kry en hy het self gesê hy sal nie nee dankie sê as hy die rol losslaan nie. Hy is mos immers net so ’n hartebreker in die TV-reeks The Vampire Diaries.

Chris Hemsworth

Die Thor-akteur (30) sal briljant wees as Christian Grey en hy kan boonop sy 23-jarige broer, Liam Hemsworth, kry om Christian se broer, Elliot, te speel. Of Liam kan Christian speel en hy Elliot. Ons gee nie om nie. Solank ons net dié twee sexy broers saam op die skerm kan sien.

Alexander Skarsgård

Die Sweedse akteur (37) speel ’n sexy vampier in die TV-reeks True Blood en is glad nie skaam om sy klere te laat waai nie, so ons twyfel of hy nee dankie sal sê as hulle hom die rol aanbied.

Deur Lara Atson