Prins Charles het aan ’n joernalis gesê hy het vroeër “vasgevang” gevoel en asof sy lewe “klaar uitgewerk” was.

Die Britse troonopvolger het die joernalis Selina Scott vertel van sy frustrasies en selfbeeldprobleme, wat sy werk as koninklike nog moeiliker gemaak het.

Selina skryf in die koerant Mail on Sunday Charles het aan haar gesê: “Jy is gelukkig dat jou hele lewe nie klaar vir jou uitgewerk is vir sover as wat jy kan sien nie, elke minuut, elke uur, elke dag, elke jaar.

“Daar was baie kere dat ek heeltemal vasgevang gevoel het. Ek het min selfvertroue en dit was dus baie moeilik. Ek kan besluit om ’n stiller bestaan te voer en niksseggende toesprake lewer, maar ek dink nie dit gaan vir enigeen veel beteken nie. My probleem is dat ek baie sterk oor dinge voel. Ek kan dit nie help nie. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie. Dis net hoe dit is. En ek moet uiting daaraan gee.”

Die prins van Wallis het dit aan Selina gesê toe sy ’n program verfilm het oor sy verhouding met Keltiessprekende mense in 1991. Sy is ’n jare lange vriendin van die prins en ontvang selfs uitnodigings na die koninklike tuiste by Sandringham. Charles het ook aan haar vertel hoe sy gewete dikwels die oorhand kry.

“Ek het ’n baie goedontwikkelde gewete wat my altyd aanpor en ek sien soveel mense in baie minder bevoorregte posisies as ek en voel: Ek is in hierdie posisie. Wat kan ek tot die beste van my vermoë doen om hul lot te verbeter?”