Prins Charles van Brittanje het onlangs gegrap hy sal maar te bly wees om sy seun William se kleinding weer vir hom terug te gee wanneer hy klaar oppasser gespeel het. Die 64-jarige troonopvolger was verlede Vrydag omtrent op sy stukke tydens die amptelike opening van Fisher House, ’n sentrum vir die families van soldate wat by die nabygeleë Koningin Elizabeth-hospitaal in Birmingham behandel word.   Charles word in Julie vir die eerste keer oupa wanneer sy seun William en dié se vrou, die hertogin van Cambridge, se eersteling gebore word. Charles het geskimp dat hy nie vir baie lang tye oppasser sal speel nie. “Ek het hom gevra of hy uitsien na die geboorte van sy kleinkind en hy het geantwoord: ‘Vreeslik baie,’ ” het kpl. Andy Reid, ’n ondersteuner van die projek, aan die koerant Birmingham Mail vertel. “Toe lag hy en sê: ‘Dis fantasties dat jy hulle kan teruggee.’ ” Charles het tyd saam met die pasiënte en hul families deurgebring voor hy ’n gedenkplaat onthul het vir die opening van Fisher House, wat deur die liefdadigheidsorganisasie Help for Heroes ondersteun word. Hy het vroeër die dag die Marie Curie-hospitium in Solihull besoek vir die openingsgeleentheid. Die meisiegroep The Saturdays was ook daar en in hul noppies om die prins te ontmoet. “Ons was baie senuagtig om prins Charles te ontmoet; ons het geweet ons moes ons mooi gedra. Hy was fantasties,” het Frankie Sandford van die groep gesê.