Die prins, wat hom, volgens sommige, al lank by politieke sake inmeng, sal “getrou aan sy oortuigings en bydraes” bly, het die anonieme bron aan die koerant gesê.

“Pleks van ’n totale herskepping om ’n monarg in die styl van sy ma te word, sal die strategie wees om met sy opregte ingrypings te probeer aanhou, hoewel elk nagegaan sal word vir toon en inhoud om te verseker dit berokken nie die monargie skade nie,” het die bron gesê.

Gewoonlik lewer lede van die koningsgesin nie kommentaar op politieke sake nie, en koning Elizabeth II is bekend daarvoor dat sy haar eie raad inwin.

Maar haar seun Charles (66) het al kritiek uitgelok vir sy uitgesprokenheid oor alles van geneties gemanipuleerde kos tot argitektuur. Vroeër vanjaar het hy opslae gemaak toe hy na bewering die Russiese president, Wladimir Poetin, se dade in die Oekraïne vergelyk het met dié van Adolf Hitler. “Die prins verstaan hy moet versigtig wees oor hoe hy kommer uitspreek of vrae vra, maar ek dink hy sal dit steeds doen,” sê Patrick Holden, ’n organiese boer en vriend van die prins, aan die Guardian.

'Hy is deel van ’n monargie wat deurentyd verander.'

“Hy is deel van ’n monargie wat deurentyd verander. Hy voel hierdie sake is te belangrik om te ignoreer.”

Die prins se kantoor, Clarence House, wou nie kommentaar lewer nie.

“Bespiegeling oor die prins van Wallis se toekomsrol as koning bestaan al jare, maar dit is nie iets waarop ons in die verlede kommentaar gelewer het nie en ons sal dit nie nou doen nie,” het ’n woordvoerder aan die koerant gesê.

“Die prins van Wallis gee baie om vir hierdie land en het die meeste van sy werklewe daaraan gewy om individue en organisasies ’n verskil te help maak – en nie net vir sy persoonlike gewin nie.”

Die woordvoerder het gesê die prins maak jaarliks meer as 600 verskynings. “Dit gee hom ’n unieke perspektief wat veroorsaak dat hy sake voor ander identifiseer wat dalk andersins misgekyk sou word.”

Dinsdag het Charles gepraat oor die “sielsvernietigende tragedie” wat Christene in die Midde-Ooste in die gesig staar. Hy het die gemeente van die Sint Yeghiche Armeniese kerk in Londen se middestad toegespreek.

Hy het gesê dit is “hartverskeurend” om te hoor van die aanvalle op Christene en kerke in Sirië en die breër gebied.