Een van Diana se vriendinne sê prins Charles was die prinses se groot liefde.

Lucia Flecha de Lima beweer Diana het gesê sy voel “beslis nie” enige passie vir Dodi Fayed nie, en sy het Charles die meeste liefgehad. Diana en Dodi is in 1997 saam in ’n motorongeluk dood. Diana het ná haar en Charles se egskeiding ook met Hasnat Khan, ’n dokter, uitgegaan.

Lucia het met die première van die rolprent Diana in haar geboorteland, Brasilië, aan MailOnline gesê: “As jy my vra of sy passievol oor Hasnat was; ek weet nie. Maar ek is seker sy was dit nie oor Dodi Fayed nie. Ek weet, want ek het haar gevra.

“Die liefde van Diana se lewe was prins Charles, ek twyfel nie daaraan nie.”

Lucia het Diana verskeie kere per week in Londen ontmoet. Hulle het in 1990 vriendinne geword toe Lucia se man die Brasiliaanse ambassadeur daar was.

Sy het in 2007 by die ondersoek na Diana se dood gesê sy het gedink Diana wou graag ’n “middelklaslewe” hê deur met Hasnat te trou, maar het gedink dis onmoontlik.