Prins Charles is die oudste Britse troonopvolger nog nadat hy koning William IV, wat in 1830 koning geword het, uitgestof het.

Charles word op 14 November 65. Toe koning William IV in 1830 die troon oorneem by sy ouer broer, koning George IV, was hy 64 jaar en 310 dae oud.

Charles het onlangs geskerts hy gaan dalk nie tyd hê om die troon van sy ma, koningin Elizabeth, oor te neem nie. Hy het gesê: “Ek sal dood wees as ek nie versigtig is nie.” Hoewel hy oor ’n opknappingsprojek gepraat het, het baie mense gedink hy verwys na die troon.

Charles was drie jaar oud toe hy troonopvolger geword het, wat aan hom die rekord besorg as die troonopvolger wat die langste dien.

Hy sal dalk nog lank moet wag om koning te word, want sy ma is op 87 nog baie gesond. Haar ma, koningin Elizabeth, het 101 jaar oud geword.

Die oudste troonopvolger in die geskiedenis is Sophia van Hanover (83). Hoewel sy nooit koningin geword het nie, is sy in 1701 deur die Wet op Troonopvolging as die regmatige troonopvolger van koningin Anne verklaar.