LANK, lank gelede was daar ’n blonde elfie wat op twee jaar al so vaardig in die water was dat sy sommer self na die rand van die swembad geswem het toe haar gesin se hond haar eendag in die water stamp.

Haar ouers het gou besef die jong Charlene Wittstock (32) het ’n buitengewone talent, en kort voor lank het hulle daarvan begin droom dat sy eendag by die Olimpiese Spele sou swem.

Maar selfs in hul wildste drome sou Mike en Lynette Wittstock nooit kon voorsien hoe glansryk hul enigste dogter se lewe eendag sou wees nie. Wie sou dan ooit gedink het sy sou ’n regte, egte prinses word?

Maar dit is 30 jaar gelede. En toe Prins Albert van Monaco (52) nou die ander dag vir Mike bel, was hy glad nie verbaas nie. Hy’t die prins se oproep eintlik al lankal verwag.

“Hy wou weet of hy ’n ring aan my dogter se vinger kon sit. Ek het gesê: ‘Natuurlik, dis hoog tyd,’” sê Mike op sy opgeruimde, plat op die aarde manier.

“Albert en Charlene was ’n rukkie gelede in Suid-Afrika vir die opening van die Wêreldbekertoernooi en hulle het my daarna saam met hulle na Kaapstad laat vlieg vir die Springbokke se rugbywedstryd teen die Franse.

Hulle was toe in Kenia en Singapoer, en daarna by die Sweedse troue (van kroonprinses Victoria). En toe bel Charlene my om te sê Albert gaan my bel om te vra of hy met haar kan trou.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010.