Elke keer ná ’n vakansie in Suid-Afrika pak sy haar tasse vol Ouma-beskuit, Jungle- hawermout en Mrs Ball’s-blatjang. En natuurlik ’n pakkie rooibostee, want haar verloofde, die prins van Monaco, is tog so lief daarvoor.

Toe Charlene Wittstock (33) pas hier was om vir die heel eerste keer die Midmar-myl in KwaZulu-Natal ten bate van die liefdadigheidsorganisasie Special Olympics South Africa te swem, het sy weer gesorg dat sy genoeg rooibos inpak.

Hier op Umhlanga aan die KwaZulu-Natalse kus waar sy as kind elke jaar saam met haar gesin vakansie gehou het, voel sy nog net soos die doodgewone meisie wat sy toe was, vertel die langbeenswemmer vir Huisgenoot toe ons haar by die luukse Beverley Hills Hotel ontmoet.

Op die wit strande waar niemand haar as glansmens en toekomstige prinses herken nie, is dit maklik om doodgewoon te voel.

“Ek dink in die hele week het nog net een ou op die strand my herken. En hy’t gesê: Kyk daar is Charlene, die swemmer,” vertel die Suid-Afrikaanse blondine wat in die eerste naweek in Julie met prins Albert II van Monaco gaan trou.

Sy lyk ook nog byna soos die ongekunstelde rabbedoe van Benoni, waar sy aan die Hoërskool Benoni en Benoni-kollege skoolgegaan het, gereeld perdgery en net T-hemde en jeans gedra het.

Sy het nou wel ’n duur ontwerpersrok van haar goeie vriend die Durbanse ontwerper Terrence Bray aan en haar amptelike haarstilis en grimeerkunstenaar het gesorg dat haar voorkoms foutloos is. Haar naels is netjies en kort geknip en sonder naellak, en in haar ore skitter geen oorbelle nie.

Sy praat met ’n sagte stem en die grasie van ’n ervare prinses, maar as jy vra, sê sy sy weet nie of sy al soos ’n prinses voel nie.

“Hoe sal ek nou weet hoe dit voel? Ek dink ek het net mettertyd meer volwasse geword. Ek is nie meer die swemmer nie. Ek is met soveel verskillende dinge besig.

“Ek reis baie saam met die prins, ontmoet verskillende presidente en woon VN-berade by. Dit alles het my perspektief verander en verbreed en dis wonderlik,” vertel sy.

Sy is duidelik gesofistikeerd, elegant, ’n regte, egte prinses – maar in haar hart is sy steeds ’n Suid-Afrikaanse nooi.

Bespreek vir Skouspel!

Lees meer oor Charlene in die Huisgenoot van 17 Februarie 2011.