Op beeldmateriaal lyk dit of ’n 45-jarige man dalk een te veel agter die blad het voor hy ’n vuurwerkwinkel binnegaan. Die gevolge is dramaties.

Die man het van die vuurwerk glo buite die Xi La Lai-vuurwerkwinkel in Hanzhong, China, aan die brand gesteek. Maar o wee: Vuurwerk wat brand by vuurwerk wat in kartonbokse verpak is, stuur af op ’n onafwendbare ramp. En as een van dié wat na binne skiet boonop ’n vuurpyl is, is die kans om die saak te beredder minder as nul.

Kort voor lank is daar ’n chaos en ontplof vuurwerk in die winkel. Die werknemers, asook een van hulle se 10-jarige seun, hardloop na buite uit vrees vir hul lewe.

Binne enkele sekondes verander die toneel in ’n makabere dans van ontploffings, vlamme en rook.

Kort daarna is die hele gebou in ligte laaie. Brandweermanne waag hul lewe deur die brandende gebou binne te gaan en bokse vol vuurwerke wat nog nie ontplof het nie van die toneel te verwyder.

Luidens berigte het die polisie op 21 Januarie meer as 200 vuurwerkeenhede van die man gekonfiskeer. Hy het dit glo onwettig geberg.

Die ware is daarna oorhandig aan die winkel, waar dit glo tydelik gehou sou word.

Die man het glo verskeie kere voor dié vernietigende vuurwerkvertoning vergeefs probeer om sy goedere terug te kry. Hy het hom ná die voorval aan die polisie oorhandig. Verskeie klagte van brandstigting staar hom glo in die gesig.

Bronne: globalnews.ca, abc.net.au, mirror.co.uk