Die Cheetahs se haker staan deftig in grys voor die kansel van die klein klipkerkie hier by ’n plaasdam op ’n wildreservaat buite Kroonstad en wag.

Dan sien hy dit – ’n gesig wat Adriaan Strauss tegelyk wil laat lag en huil en juig.

Chantell van Heerden verskyn by die deur in ’n spierwit, vloeiende skepping, so mooi dat die bruidegom onwillekeurig sy kop moet skud.

Bespreek vir Skouspel!

Op die note van Enya se The First of Autumn kom sy by die paadjie afgestap. Eindelik word sy vandag sy vrou . . .

Meer as vier jaar is verby sedert hulle mekaar leer ken het, en soos hulle nou vir mekaar loer hier voor in die kerk, brand die liefdesvlam sterker as ooit tevore.

Dis geen stywe affêre vandag nie, en die paartjie, albei 25 jaar oud, is vol glimlagge.

Die kapel by die Lechwe Lodge is eenvoudig versier, met net ’n paar Sint Josefslelies en stringe pêrels wat uit die dak hang.

Terwyl waaiers onverpoos werk om die 210 gaste koel te hou op hierdie skroeiwarm Saterdagmiddag, gee die Springbokflank Flip van der Merwe, een van Adriaan se ses strooijonkers, die ringe aan.

Hare is ’n knoets van ’n diamant omring deur 92 kleiner diamantjies wat die drie pante aan haar vinger versier. Syne, ’n eenvoudige titaanring, het sy bruid vir hom uitgesoek.

Die pastoor sê nou mag die bruidegom maar sy bruid soen, en die gaste bars uit van die lag en klap spontaan hande toe Adriaan sommer ook ’n tweede en derde soen steel.

Toe hy die nuwe mev. Strauss aan haar hand by die kerk uitlei en wolke springmielies uit die lug op hulle reën, is daardie breë glimlag steeds op Adriaan se gesig.

Pragfoto's en die volledige artikel is in Huisgenoot, 10 Februarie 2011.