Die aantreklike akteur het bekendgemaak dat hy aan die draaiboek vir ’n opvolg aan die drama oor ’n ontkleedanser werk – dis losweg op sy eie verlede gegrond – deur ’n foto te deel van hom waarop hy diep in gedagte staar na ’n borsbeeld van Matthew, sy medester in die eerste fliek.

Met verwysing na Matthew se karakter, het hy onderaan die foto geskryf: “Hoe kan ’n mens dan nou beter begin skryf aan #MagicMike2 as saam met my ou vriend Dallas? #runatribe.”

Die eerste Magic Mike-fliek het ’n verbasende donker intrige gehad, maar Channing sê die opvolg gaan minder ernstig wees. “Dit gaan eintlik wees soos almal gedink het die eerste sou wees: Dol en lekker met minder drama. Ons moes sorg dat die eerste een nie te goedkoop en uitspattig was nie, maar met dié een gaan ons alles uithaal.”

Channing (33) oorweeg glo om sy hand aan regie te waag én in die fliek te speel; dit sal sy eerste keer in die regisseurstoel wees. Hy werk ook aan ’n Broadway-blyspel gegrond op die fliek; dis verlede jaar aangekondig.”

Reid Carolin, wat help om die nuwe draaiboek te skryf en ook die medevervaardiger van Magic Mike was, het gesê: “Ons werk daaraan om dit op Broadway op te voer. Die storie gaan anders wees: Meer pret, ’n lekker aandjie uit in ’n klub, maar met ’n storie.”