Die akteur speel tans die hoofrol in Magic Mike XXL, waar hy terug is as Mike, die ontkleedanser wat moet kalm bly voor skares jillende vroue.

Hy is egter geneig om effens meer verbouereerd te wees in die werklike lewe, soos die keer toe hy die Britse koninklikes ontmoet het.

“Ek kon in my hele lewe nie meer onnosel geklink het nie, al het ek hoe hard probeer. Ek bedoel, ek het iets soos 25 000 keer gevloek. Ek het die F-bom gelos. Ek kon niks onthou nie. Dit was só ’n verleentheid. Dit was ’n nagmerrie,” het hy teenoor die Britse uitgawe van die tydskrif GQ ineengekrimp.

Die oorspronklike Magic Mike, wat in 2012 verskyn het, is gegrond op Channing se eie lewe as ontkleedanser, en hy het onlangs onthul hy sou “’n klomp nare goed aanvang vir eendollarnote”.

Hy bieg ook hy was nogal ’n handvol as kind; dit het hom die bynaam Chanimal besorg.

“Ek sou enigiets eet, enigiets opskeur. Ek was net ’n klein diertjie. Ek was in al my rolprente besmeer met wat ek ook al geëet het en ek het moontlik selfs aan die muurpapier gekou,” het hy gesê.

Die 35-jarige Channing het meer verfyn geraak as volwassene. Hy is die trotse pa van ’n tweejarige dogter, Everly, by sy vrou, die aktrise Jenna Dewan (34).

Hy het onlangs uitgevind hy het ’n passie vir beeldhouwerk.

“Ek het, om die een of ander rede, net gedink ek kan dit doen. Jy weet, ek kan verstaan hoe om dit te doen. Soos byvoorbeeld, kan ek agteroor bollemakiesie slaan? Ja, ek kan. En ek weet nie hoekom nie, maar ek het net gedink ek kan dit doen,” het hy sy stokperdjie verduidelik.

“Die beste ding omtrent klei is dat ek geen verantwoordelikheid teenoor dit het nie. Dit sal nie omgee as ek dit nie voltooi nie. Dit is klei. Dit gee nie om of dit enige nut het nie. Jy kan dit flenters gooi as jy daarmee klaar is en dit maak nie saak nie. Ek hoef nie ’n bestaan daaruit te maak nie. Spot daarmee; dit maak nie saak nie. Dis net klei.”

© Cover Media