.

Channing (33) en Jenna Dewan (32) het in 2006 op die stel van Step Up ontmoet en die akteur vertel hy het vroeg-vroeg al geweet sy is die een vir hom. Die twee is intussen getroud en het hul eersteling, Everly, is onlangs gebore.

Channing het aan Elle.com gesê: “Toe ons begin uitgaan, was ek platsak en kon ek nie eens my deel van die huur betaal nie. Sy was ses maande lank my ‘sugar mama’.”

Vroeg in hul verhouding het Channing ook reeds gesien Jenna is die een vir hom.

Hy het verduidelik: “Tydens ons eerste vakansie saam het ons hierdie waterval in Hawaii probeer kry. Daar was ’n paadjie met bakens en so, maar die staproete het omtrent vier en ’n half uur geneem. Toe besef ek ons gaan nooit voor donker terug wees by ons blyplek nie. Ons het ook nie flitse saamgebring nie, niks nie. Toe dit donker begin word, het ons ’n bietjie vinniger begin draf. Jy kon nie eens jou hand voor jou oë sien nie.

“Die meeste mense sou paniekbevange word en mekaar die skuld begin gee. Maar Jenna was heel kalm. Ons was vol modder, maar het dit gemaak. Ek het ’n paar biere in my sak gehad, wat ons langs die pad gedeel het.”

En die geheim van hul verhouding? “Kommunikasie en absolute eerlikheid is wat jy wil hê. Maak nie saak wat nie, praat met mekaar. Daai goed wat jy bang is jy hoor? Dis juis wat jy moet wil weet.”