Die White House Down-akteur (33), die vervaardiger Reid Carolin (31) en die akteur Nick Zano (35) van Happy Endings werk saam aan Nicky, wat in halfuur lange episodes uitgesaai sal word. Nick is die medeskrywer van en speel die hoofrol in die sitkom, wat by Warner Bros TV ontwikkel word.

Channing (33) het op Facebook geskryf: “Ons het nagte om saam met ons pel Nick Zano geskaterlag oor sy staaltjies van sy grootwordjare in ’n huis met sewe vroue uit vele generasies in New Jersey. Nou kondig ons met groot trots aan dat ons hierdie stories na jou huis gaan bring. Wees volgende jaar op die uitkyk vir Nicky, ’n nuwe sitkom van Warner Bros TV met Nick in die hoofrol en deur ons vervaardig!”

Al drie sal as uitvoerende vervaardigers dien. Volgens Deadline sal “Nick ’n 30-jarige Nicky vertolk wat eindelik uit die huis probeer trek, maar dan besef hy moet bly en sy jongste suster help grootmaak”.

Dis ’n bedrywige jaar vir Channing en Reid. Hulle werk ook aan opvolgflieks vir 21 Jump Street en Magic Mike, asook ’n Evel Knievel-biofliek waarin Channing die bekende waaghals sal speel.