Die 32-jarige aktrise het Donderdag in Londen die lewe aan die egpaar se eersteling geskenk en hoewel die ouers self nog tjoepstil is daaroor, het vriende aan UsMagazine.com vertel hoe opgewonde hulle oor die koms van die babadogter is.

Die akteur Jamie Foxx was van die eerste van die egpaar se hoëprofielvriende in Hollywood wat hulle gelukgewens het. Hy het Sondag op Twitter geskryf: “Liefde aan my @WHD-medester @channingtatum + sy vrou @jennaldewan + hul nuwe baba. Welkom in die wêreld, klein Tatum.”

Jamie en Channing speel saam in White House Down.

Die egpaar – wat in Julie 2009 afgehaak het – was die afgelope paar maande in Londen, waar Channing (33) werk aan die wetenskapsfiksieprent Jupiter Ascending.

Die produksie skuif volgende maand na Chicago en Jenna begin binnekort werk aan die Lifetime TV-reeks Witches of East End. ’n Bron na aan die twee sê hulle sal hul kind altyd eerste stel.

“Die baba sal hul eerste prioriteit wees. Channing gaan die oulikste, mees betrokke pa wees en alles moontlik doen om te verseker Jenna kan alles hanteer,” sê die bron.

Die egpaar het die swangerskap in Desember bekendgemaak en het sedertdien by hul vriende aangeklop vir raad. Channing het Sienna Miller, sy medester in G.I. Joe: The Rise of Cobra, glo vir raad gevra.

“Ons praat gedurig oor die foon. Ek het hom raad gegee. Ons het dieselfde verloskundige en alles,” het Sienna gesê.