?André Gouws en Ambrose Monye is Woensdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens die moord op Chanélle Henning in November 2011 berig Beeld.

Regter Johann Kruger sê Monye en Gouws se onlangse bekentenisse was nie versagtend en genoeg rede om nie lewenslange vonnisse op te lê nie.

Volgens hom het die beskuldigdes Henning vir geldelike gewin vermoor en geen berou getoon nie.

Chanélle is geskiet terwyl sy in haar motor in Faerie Glen in die ooste van Pretoria gery het nadat sy haar en Nico Henning, haar vervreemde man, se kind by 'n kleuterskool afgelaai het.

Sy en Nico was ten tye van die voorval in 'n geding om toesig oor die seun gewikkel.

Bronne: Beeld, Sapa