Die akteur (43) was 10 jaar lank in die gewilde sitkom te sien, maar het in dié tyd gestry teen sy verslawing aan onder meer alkohol, die pynstiller Vicodin en amfetamien. Hy het nou verklap hy het sy probleem weggesteek vir sy kollegas, onder wie Jennifer Aniston en Courteney Cox.

Matthew het aan die tydskrif People gesê hy was “nooit by die werk hoog nie”, maar het tog ’n “kwaai, kwaai babbelas” gehad. “Op die ou einde het my probleem so groot geword dat ek dit nie meer kon wegsteek nie; almal het geweet.

“My lewe was vol baie groot hoogtepunte en verskriklike laagtepunte. Ek was in die helderwit vlam van roem. ’n Buitestander sal dink ek het alles gehad waarvan ’n mens kan droom. Maar eintlik was ek in daardie tyd baie eensaam, want ek het my aan alkohol vergryp.”

Matthew het darem vertel dit gaan nou beter met hom; hy hoop selfs hy kan ’n rolmodel wees vir mense met soortgelyke probleme. Hy het verduidelik: “Die interessante ding is: Omdat ek so gereeld aangejaag het, kan ek mense nou baie beter help. Dis goed as mense kan sien iemand wat so gesukkel het, het hul probleme oorkom.”