DIS nie juis die ideale weer vir die verwelkoming van ’n held nie.

Die lug is donker en reënwolke hang laag en dreigend.

Tog kan die vliegtuig met Suid-Afrika se nuwe prins van die swembad darem veilig land.

Die sowat 300 tienerseuns wat in die aankomssaal van die King Shaka Internasionale Lughawe in Durban saamdrom, maak reg om hul vriend hartlik te verwelkom.

Elke keer dat die deure oopskuif, begin die lede vandie Chad le Clos-bewonderaarsklub van Westville Boys’ High juig, maar raak dan weer stil wanneer hulle sien dis nie hul skoolmaat nie.

Skielik verskyn Chad se ligte kop. Die seuns skree, swaai plakkate rond en trek los met ’n tradisionele Zoeloe-oorlogskreet wat die balke laat dreun.

Om die 18-jarige swemmer se nek hang die twee goue medaljes wat hy by die Statebondspele in Nieu-Delhi gewen het – een in die 200 m-vlinderslag en die ander in die 400 m individuele wisselslag waarmee hy ook ’n Statebondrekord verbeter het.

Sy vriende vertrap mekaar om aan die blink trofeë te vat.

Toe hy later in die gemak van sy ouerhuis in Pinetown ontspan, kan hy nie ophou glimlag nie.

Om die eerste goue medalje te wen – vir die 200-vlinderslag –was ’n droom wat waar geword het, sê hy.

“Toe ek op die podium staan en hulle die volkslied speel, was ek na aan trane. Dieselfde ding het netnou by die lughawe gebeur.

"Toe ek my familie en klasmaats sien, het ek rillings teen my rugraat af gekry.”

Die Chad wat op die rusbank rondlê met sy blonde krulle wat om sy ore wip, is ver verwyderd van die senuagtige tiener wat voor sy items in Nieu-Delhi opgewarm het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 Oktober 2010