Die Olimpiese swemmer Chad le Clos en sy gesin is die laaste paar weke deur ’n baie moeilike tyd – en nou het hy ook aangekondig hy beëindig sy verbintenis van 14 jaar met sy afrigter, Graham Hill.

A photo posted by Chad Le Clos (@chadleclos92) on

In die nuutste Huisgenoot maak Chad en sy pa, Bert, hul hart oop in ’n eerste eksklusiewe onderhoud sedert die Olimpiese Spele in Rio. Hy praat onder meer oor die pas afgelope Spele, volgens hom die aakligste byeenkoms van sy lewe, en die lang pad wat hy en sy gesin stap terwyl sy ouers ’n dubbele kankerstryd voer.

Nou het Chad ook besluit om ’n nuwe afrigter te kry.

“Graham Hill het as my afrigter in die laaste 14 jaar uitstekende werk gedoen,” het Chad in ’n verklaring gesê.

Volgens Chad het hy en Graham in die 14 jaar baie saam bereik op byeenkomste soos die Olimpiese Spele, waar Chad vanjaar twee silwermedaljes gewen het.

“Ná deeglike oorweging het ek besluit om ons ooreenkoms te beëindig. Ek sal nou begin soek vir ’n nuwe struktuur in 2017.

“Vir die res van 2016 se seisoen gaan ek op my eie werk. Elke atleet moet verantwoordelikheid vir sy eie loopbaan neem en ek voel gereed om ’n nuwe aanslag te probeer,” sê hy.

Huisgenoot het Bert langs die swembad gekry waar hy besig was om te kyk hoe Chad oefen. “Dit gebeur met baie verhoudings,” sê Bert.

“Jy maak uit met jou meisie of beëindig ’n vriendskap. Soms moet daar vernuwing kom.

“Ons is baie dankbaar vir Graham se ondersteuning en oor hoe hy Chad gevorm het. Ons wens hom alle sterkte toe vir die toekoms.”