Die vervaardiger van die treffer My Heart Will Go On het in Januarie vanjaar haar man en bestuurder aan die dood afgestaan. Hy het keelkanker gehad.

In haar eerste televisie-onderhoud sedert sy dood, het Céline onthul sy het haar laaste woorde aan René gebruik om hom te help om in vrede te sterf.

“Ek het met hom begin praat en gesê: ‘Weet jy wat, ek wil net hê jy moet in vrede gaan. Ek wil nie hê jy moet jou bekommer nie’,” het sy die oomblik in herinnering geroep teenoor ABC News van Amerika. “ ‘Jy het jou oor my loopbaan bekommer. Jy het jou oor die kinders bekommer. Jy het jou oor alles bekommer. Dis genoeg. Vertrou jy my? Asseblief, doen dit. Vertrou my.’ ”

Lees ook: Céline Dion in trane tydens roerende huldeblyk aan haar man

Sy het voortgegaan: “ ‘Dit gaan goed met die kinders. Dit gaan goed met my. Ek belowe jou ons sal oukei wees. Gaan asseblief in vrede. Ek wil nie hê jy moet jou bekommer nie.’

“Ek het hom toegemaak, want hy was baie koud. Ek het twee van sy japonne geneem en vir hom en my elkeen een aangetrek. Ek het in sy oor gefluister en hom so baie gesoen.”

René is kort daarna oorlede, maar dit was eers toe die mediese beamptes haar man se liggaam uit hul huis wegneem dat Celine regtig ineengestort en haar emosies vrye teuels gegee het.

“Toe hulle hom wegneem, het ek die voertuig ’n entjie agternagesit, soos ek gemaak het op die eerste dag toe my kinders skool toe gegaan het,” het sy tydens ’n ander onderhoud met die tydskrif People bely.

Intussen het die sangeres ook vertel hoe sy die 2009-animasierolprent Up gebruik het om te help om Rene se dood aan haar jongste kinders, die vyfjarige tweeling Nelson en Eddy, te verduidelik deur sy dood met die verlies van die bejaarde karakter Ellie in die fliek te vergelyk.

“Voor ek aan hulle gesê het hul pa is nie meer hier nie, het ek met hulle gepraat oor wanneer ons almal siek word,” het sy tydens ’n gesprek aan Deborah Roberts, ’n verslaggewer van ABC, gesê. Die onderhoud word op Woensdag, 18 Mei, op die Amerikaanse ontbytkanaal Good Morning America uitgesaai.

Lees ook: Groot hartseer vir Céline Dion

“Toe sê ek: ‘Onthou julle die fliek Up? Dit is een van ons gunstelinge,’ ” het Céline verduidelik. Hulle het gesê hulle onthou Ellie het opgegaan en “is by die ballonne”. Sy het verduidelik hul pa het ook so “opgegaan”.

“Al wat ek wou hê, was dat hulle moes sê ‘op’ (oor die verlies van hul pa),” het sy bygevoeg. “Op is ’n goeie ding, op is opkikkerend. Dit is wat ons dit gaan noem, ons gaan nou feesvier want Pappa het nie meer pyn nie.”

Céline en René het ook ’n 15-jarige seun, René-Charles.

Tydens die onderhoude met die media het die superster vir die eerste keer haar hart behoorlik oopgemaak oor haar man se dood sedert sy haar loopbaan onderbreek het om oor hom te treur.

Sy het laat in Februarie teruggekeer na die verhoog in Las Vegas, en haar tuiste daar, en sy sal op Sondag 22 Mei tydens die Billboard Music Awards in die Sondestad, met die Icon-prys gehuldig word. Sy sal ook daar haar man se nalatenskap vereer met ’n uitvoering van The Show Must Go On van die rockgroep Queen.

© Cover Media

Lees ook op Huisgenoot.com:

So gaan dit deesdae met Gerhard Steyn se vroeggebore babadogter

Meisie smeek om na selfdoodkliniek geneem te word elf jaar ná geheimsinnige goggabyt

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder