Céline en René Angélil is sedert 1994 getroud, maar ongelukkig ly haar huweliksmaat nou aan keelkanker.

Josh, wat goed bevriend is met die egpaar, het op die Amerikaanse TV-program The Talk gesê René is sy vrou se grootste aanhanger. “As daar een ding is waarvoor René lief is naas haar, hul gesin en hul persoonlike lewe, is dit haar stem en haar vermoë,” het Josh gedeel. “Dit gee lewe aan hom. Hy sê vir haar ‘ek wil hê jy moet uitgaan en dit met die mense deel’ – dis hoe hulle is.” Josh het oor die jare ’n sterk band met Céline en René gesmee. Die 34-jarige dink nie hy sou dit in die vermaakbedryf gemaak het as dit nie vir die paartjie was nie.

'As daar een ding is waarvoor René lief is naas haar, hul gesin en hul persoonlike lewe, is dit haar stem en haar vermoë.'

“Céline en René is sulke spesiale mense. Ek is so bevoorreg om hulle te ken,” sê Josh. “Dis onder meer danksy hulle dat ek ’n loopbaan in hierdie bedryf het. Hulle is van die eerste mense wat my ’n kans gegee het. Céline het my op ’n Grammy-verhoog saam met haar laat sing toe ek 17 jaar oud was.”

René (73) het al voorheen die siekte oorkom. Oor die jare moes hy ook hartprobleme oorkom en verlede Junie het hy uitgetree as sy vrou se bestuurder sodat hy op sy gesondheid kan fokus. Céline het verlede Augustus optredes gekanselleer sodat sy vir René kan sorg. Sy het in ’n onlangse onderhoud erken dis soms baie seer om vir haar geliefde te sorg. “Hy kan nie eet nie, so ek voer hom,” het sy aan ABC-Nuus gesê terwyl sy die trane afvee. “Hy het ’n voedingsbuis. Ek moet hom drie keer per dag voer.”

Die My Heart Will Go On-sangeres het onlangs aangekondig sy sal in die Amerikaanse somer weer uitvoerings in die Las Vegas Strip gee.

© Cover Media