Céline Dion het slegs een man in haar hele lewe gesoen en dit was haar oorlede man, René Angélil.

Die paartjie het mekaar ontmoet toe Céline net 12 jaar oud was, maar hulle het ’n professionele verhouding gehad tot 1987 waarna hulle begin uitgaan het. Die twee, wat in 1994 afgehaak het, was gelukkig getroud tot René in Januarie vanjaar tragies gesterf het ná ’n lang stryd teen kanker.

Céline het verlede Saterdag tydens ’n onderhoud met CBS erken dat sy nog altyd net vir René liefgehad het, en dat al die passievolle ondervindings in haar lewe saam met haar oorlede maat was.
"Dinge was vir ons almal baie, baie moeilik voordat hy heengegaan het,” het sy in die onderhoud kort na haar 1,000ste optrede in Las Vegas gesê. "Veral vir my en my kinders om te sien hoe die man in my lewe elke dag ’n bietjie sterf."

"En toe hy weg is, was dit soort van ’n verligting dat die man wat ek liefhet, die enigste man wat ek ooit gesoen het, die enigste man wat ek liefgehad het, verlos is.”

Screen Shot 2016-10-10 at 16.07.17

René, by wie Celine die 15-jarige René-Charles en die tweeling, Nelson en Eddy, gehad het, was 73 toe hy oorlede is.

Céline sukkel nog duidelik met haar man se heengaan, maar sy het bygevoeg sy is bly dat sy lyding verby is ná baie jare se gesondheidsprobleme.

"Ja, ek het geen ander man in my hele lewe gesoen nie,” het sy bevestig. “Dus was die man in my lewe my maat en ons was een. Toe sy lyding dus tot ’n einde kom, het ek vir myself gesê hy’s oukei. En hy verdien dit om nie te ly nie.”

Céline het ook onthul dat sy nie kan sien dat sy in die toekoms verlief gaan raak nie, want haar hart lê by René.

“Ek is lief, lief, lief vir hom,” het sy gesê. "Ek het wel die liefde van my kinders sowel as van my bewonderaars.

"So my lewe is nie totaal sonder liefde nie."

© Cover Media