Die 47-jarige sangeres het gesukkel om haar emosies te beheer toe sy op die verhoog klim in Las Vegas waar sy tot met René se dood in Januarie gereeld opgetree het. Céline het nie opgetree nie, maar die geleentheid gebruik om met die skare te praat en almal te bedank vir hul huldeblyke aan René.

“Dit is soos my tweede tuiste,” het Céline gesê. “Ek’s veronderstel om baie gemaklike en tuis te voel, maar weet nie hoe gemaklik ek op die oomblik is nie. Ek voel die liefde in die vertrek aan. Ek voel sy krag en warmte wat julle almal uitstraal. René het my altyd omring met die beste mense wat in ons geglo het en altyd so hard namens ons gewerk het.”

René se kinders uit vorige huwelike en sy broer het by Céline aangesluit. Talle van haar man se vriende in die musiekbedryf en sakevennote, waaronder grootbase van Caesars Palace, het van hul herinneringe van die musiekbestuurder gedeel.

Céline is teen die einde van haar toespraak oorval deur emosie en trane het vrylik geloop voor sy afgesluit het: “Weereens dankie namens my familie dat julle vanaand hier is vir die pragtige huldeblyk aan my geliefde. René, ek het jou baie lief, dankie, goeienag.”

Aanhangers kon regstreeks aanlyn na die huldeblyk kyk.

René het in Januarie sy stryd teen kanker verloor en sy amptelike gedenkdiens is in sy geboortestad Montreal gehou, by dieselfde kerk waar hy in 1994 met die sangeres agter die treffer My Heart Will Go On getrou en waar hul eersteling, René-Charles, gedoop is.

Duisende aanhangers en roubeklaers het na die Notre-Dame-basilika gestroom om hul laaste eer aan die musikant en bestuurder te betoon. Sy begrafnis is die volgende dag in dieselfde kerk gehou.

© Cover Media