Die sangeres se jare lange bestuurder en man is verlede week oorlede ná ’n kankerstryd. Céline het die dag voor die begrafnis sy openbare lykwaak in die Notre-Dame-basilika bygewoon – dieselfde kerk waarin hulle in 1994 afgehaak en waar hul eersteling, die 14-jarige René-Charles, gedoop is.

Lees ook: Groot hartseer vir Céline Dion Volgens The Toronto Star het Céline langs haar man se oop kis gestaan en vriende, familie en Quebec se politieke en kulturele leiers gegroet wat hul eer kom betoon het. René se volwasse seuns uit ’n vorige huwelik, Patrick en Jean-Pierre, was saam met haar. René-Charles was ook vir ’n gedeelte van die besigtiging aan haar sy. Rouklaers het ’n program ontvang met ’n foto van René voorop met ’n aanhaling deur Céline wat lui: “Ek verstaan dat my loopbaan op ’n manier sy meesterstuk was, sy lied, sy simfonie. Die idee om dit onafgehandeld te los, sou hom baie seergemaak het. Ek het besef as hy ons ooit sou verlaat, sou ek sonder hom moes voortgaan, namens hom.” Céline het Vrydag teruggekeer na die kerk vir die begrafnis wat deur die aartsbiskop van Montreal behartig en aanlyn vir aanhangers wêreldwyd uitgesaai is, nes Donderdag se lykwaak.

Céline het aanhangers wêreldwyd Donderdag op Twitter genooi om deel te hê aan haar man se begrafnis. “Dit sal môre vanaf enige plek ter wêreld moontlik wees om René Angélil se staatsbegrafnis aanlyn te volg.”

Sy het ’n skakel gedeel na ’n webtuiste wat hom herdenk. Die diens is op drie Kanadese netwerke uitgesaai.

Intussen het Philippe Couillard, premier van Quebec, René – wat in Montreal gebore is – se begrafnis tot ’n nasionale begrafnis verklaar en die vlag by die parlementgebou in Quebec het Vrydag halfstok gehang.

’n Gedenkdiens word ook vir 3 Februarie in die Colosseum by Caesar’s Palace in Las Vegas beplan waar Celine sedert 2011 optree.

René is dood twee dae voor Céline se broer Daniel sy stryd teen kanker verloor het. Hy word Saterdag in Montreal begrawe.

© Cover Media