Celine Dion het Britney Spears aangeraai om haar kinders bo haar Las Vegas-konserte te stel.

Die sangeres van Think Twice meen Britney moet ’n goeie ondersteuningsnetwerk hê sodat sy moederskap en haar eersdaagse verblyf in Las Vegas kan balanseer. Britney (31), wat die treffer Work Bitch sing, het twee seuns, Sean Preston (8) en Jayden James (7), by haar eks, Kevin Federline.

Celine (45), die ma van drie seuns, het Dinsdag aan ET Canada gesê: “Wat ek haar toewens, veral as ’n ma, is om wonderlike mense te kry wat haar kan help om ’n balans te vind tussen die kunstenaar wat sy is en die ma. Sy moet ook ’n emosionele balans probeer kry om hierdie twee te hanteer en die beste van albei wêrelde te wees. Ek dink regtig sy kan dit doen.”

Sy het bygevoeg: “Ek dink nie sy het my raad nodig nie. Sy was al daar, sy was op die verhoog, sy het goed gevaar. Sy is baie talentvol en weet presies hoe sy moet maak.”

Celine is in haar tweede suksesvolle verblyf. Sy tree sedert 2011 in Caesars Palace in Las Vegas op.

Britney sal in die volgende twee jaar 48 vertonings per jaar lewer, volgens haar nuwe R150 miljoen ooreenkoms met die Planet Hollywood-hotel. Haar eerste optrede is op 27 Desember.