[caption id="attachment_118636" align="alignnone" width="600"]LINKS: Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany ontvoer het. REGS: Celeste Nurse, Zephany se geboortema. FOTO'S: Misha Jordaan, Noncendo Mathibela LINKS: Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany ontvoer het. REGS: Celeste Nurse, Zephany se geboortema. FOTO'S: Misha Jordaan, Noncendo Mathibela[/caption]

“Ek is jammer wat die Nurse-gesin moes deurmaak. Ek het nie geweet sy is ontvoer nie.”

Die beskuldigde was onder kruisondervraging deur die aanklaer, Evadne Kortje, en het benadruk sy was nie op April 1997 by die Groote Schuur-hospitaal op die dag toe Celeste Nurse se baba uit haar arms ontvoer is nie.

Lees ook: Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Sy sê sy het eers vir haar man gesê sy is nie die kind se biologiese ma nie toe hy haar ná haar inhegtenisneming besoek.

Op ’n vraag oor of sy die baba wou hê sodat hy met haar moes trou, het sy nee geantwoord en bygevoeg hulle het sedert 1994 beplan om te trou.

Die 51-jarige vrou van Lavender Hill het voorheen aan die hof gesê Zephany en haar man het ’n hegte band. Haar eerste woord was “pappa”, het die beskuldigde getuig.

Sy het bevestig sy het nooit aan die kind gesê sy is nie haar biologiese ma nie. Sy staan tereg op aanklagte van ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet en het onskuldig gepleit.

Die vrou, wat Zephany grootgemaak het tot sy verlede jaar uit haar sorg verwyder is, sê sy het die baba gekry by ’n vrou genaamd Sylvia, wat vir haar vrugbaarheidsbehandeling in 1997 gereël het nadat sy ’n miskraam gehad het.

Sylvia het gereël dat die baba, sonder dat sy vooraf daarvan kennis gedra het, by die Wynberg-stasie aan haar oorhandig word, het sy getuig.

Lees ook: Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

Sy sê sy was verbaas omdat sy verwag het hulle sou ontmoet om die aannemingsproses te bespreek. Sylvia het beweer sy weet van ’n vrou wat nie haar baba wou hou nie, omdat die swangerskap nie beplan was nie.

Die beskuldigde het getuig die vrou het gesê die papierwerk sou later gereël word en sy het dokumente, waaronder ’n “aannemingsaansoek” onderteken. Sy beweer sy het daarna nooit weer van Sylvia gehoor nie.

Die beskuldigde sê sy het ses jaar later ’n geboortesertifikaat in die pos ontvang met die naam wat sy vir die baba gekies het wat daarop verskyn.

Morne Nurse, Zephany se biologiese pa, het voorheen getuig hy het ’n maand lank nadat hy die tiener ontmoet het, bewyse ingesamel nadat sy ander dogter hom vertel het van ’n meisie by die skool wat nes sy lyk.

Nadat hy sy dogter, Cassidy, en die toe 17-jarige meisie in Januarie 2015 by die skool opgelaai het, het hy die twee vir middagete uitgeneem waar sy vir hom gesê het wat haar geboortedatum is – 30 April 1997 – die datum waarop sy dogter ontvoer is.

Sy het vir Morne gesê sy lyk nie soos haar ouers nie. Toe hy vir haar sê sy lyk soos hy en sy dogter, het sy uitgebars van die lag.

Lees ook: Zephany Nurse-raaisel verdiep

Hy het dit toe eers daar gelaat omdat hy haar nie wou afskrik nie, maar haar Facebook-blad gaan bekyk en foto’s van haar uitgedruk.

Morne het ’n foto van die meisie en haar ma na ’n getuie, Shireen Piet, gestuur wat beweer sy het die vermeende ontvoerder gesien op die dag toe Zephany uit haar slapende ma se arms geneem is.

Toe hy Shireen vra of sy die vrou herken, het sy bevestigend geantwoord. DNS-toetse het later bevestig die tiener is Zephany.

Shireen het verlede maand getuig die beskuldigde het haar babadogter probeer steel op die dag toe Zephany ontvoer is.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Dis regtig verskriklik’: Verwurgde tiener se lyk in Kaapse woud gevind

Woedende ma verneder haar ‘boelie-seun’ op Facebook

Tennisster toets positief vir verbode middel

Afrikaanse werklikheidstelevisie-deelnemer sterf: ‘Sy was my rots en my held,’ vertel sussie

Dié SA stad spog met die meeste miljoenêrs

Is hierdie ook hoe jou jammerlike man reageer as jy hom saamsleep winkels toe?

Derick Hougaard vertel hoekom hy huurders vir sy huis soek