Xanda se elektroniese halsband is deur die professionele jagter Richard Cooke, bestuurder van RC Safaris in Zimbabwe, aan navorsers terugbesorg. Hy is buite die Hwange Nasionale Park geskiet, naby aan waar sy pa, Cecil, in 2015 deur die Amerikaanse tandarts Walter Palmer geskiet is.

Die dood van Cecil het internasionaal vlak woede ontlok. Walter wat die leeu met ’n kruisboog geskiet het, het destyds aangevoer hy is onder die indruk gebring dat die jagtog wettig was. Dit het nie gekeer dat hy amper oornag die etiket mees gehate tandarts in Amerika gekry het nie.

In Augustus was Cecil een van 160 diere van bedreigde spesies wat in ’n ligvertoning op die Empire State-gebou geprojekteer is.

Xanda was ses jaar oud en het verskeie jong welpies gehad.

Andrew Loveridge van Oxford Universiteit het aan The Telegraph gesê hy het die halsband verlede Oktober vir Xanda aangesit en die leeu is amper daagliks gemonitor. “Ons was bewus daarvan dat Xanda en sy trop die afgelope ses maande baie tyd buite die park deurgebring het, maar daar was nie veel wat ons daaraan kon doen nie.”

Volgens hom het Richard eties opgetree deur die leiband aan navorsers terug te besorg. Verder was Xanda ouer as ses jaar en dus binne gestipuleerde regulasies om gejag te word.

Maar in die sosiale media was daar ’n skerp reaksie oor Xanda se dood.

Lorna Davidson het op Facebook geskryf. “Wanneer sal die regering trofeejag onwettig maak? Sekerlik sal geld na die ekonomie vloei deur toeriste wat na die wild kom kyk eerder as wat ’n paar dom idiote hulle doodmaak. Wanneer hulle weg is, is hulle weg. Ons moet wild beskerm voor dit gebeur.” 

Bronne: News.sky.comtheguardian.com, The Telegraph