Ons dink: 3/5

Sjoe, jy moet bitter dapper wees om ’n suksesvolle wêreldmusikant se liedjies te leen, veral as dit Bryan Adams s’n is. Maar dié CD van Nic Stevens is glad nie sleg nie.

Nic, gewoonlik te sien as ’n lid van die Broers-trio, neem jou op ’n tydreis met van die Kanadese rocker se beste treffers: Summer of ’69, 18 Till I Die en It Ain’t a Party – If You Can’t Come ’Round.

Kyk, niemand kan die liefdesballade Have You Ever Really Loved a Woman beter as Bryan sing nie, maar die album bly ’n lekkerluister-huldeblyk.

Vir aanhangers van Broers is die goeie nuus dat dit nie die einde van die driestuks is nie. As jy vir Christo en Cobus mis: Hulle het ook ’n album uitgereik. Hopelik hoor ons die drie weer sommer binnekort saam.