Ons dink: 4/5

As die titel van Guillaume se nuwe album, Man van Staal, as ’n metafoor bedoel was, slaan dié eks-Namibiër die spyker op die kop.

Met dié uitreiking wys hy hy’t staal in sy pype. Die liedjies is uiteenlopend, al is die 15 snitte op die album meestal die ligte, lewendige popmusiek waaraan aanhangers van die Da-idi-sanger oor jare gewoond geraak het.

Maar die eintlike verrassing is deuntjies soos Afrika Kind en ook die opwindende Ek’s Jou Ou met sy disko-klank. En liefdesliedjies soos Bly in My Hart en die ballade Vir Jou steek in jou geheue vas.

Guillaume se weergawe van Cliff Richard se Hey Mr. Dream Maker en ’n akoestiese weergawe van U2 se With or without You wys dat leenliedjies nuwe lewe kan kry; die vertolking is puik.

Man van Staal is ’n stewige, sterk toevoeging tot die Afrikaanse musiekskat. G’n wonder die titelsnit is klaar ’n treffer nie.

Volg Huisgenoot op Twitter.