SY’S ’n vrou met ’n voet in twee verskillende wêrelde – een in die bruisende dolheid van Johannesburg, die ander in die kalm waters van Kaapstad – maar waar sy ook al gaan, daar volg die kollig haar . . .

Dalk is dit daarom, mymer Catriona Andrew(36), dat sy nie in trou glo nie.

“Ek is die eerste om van blydskap te huil wanneer een van my vriendinne trou, maar ek dink die huwelik pas net nie by my nie,’’ sê die vrou wat ons nou as Sam Spencer in die gewilde TV-reeks Erfsondes op die kassie sien.

“Baie meisies praat van hul troudag as hul groot dag, die een wanneer hulle die middelpunt van alles is, maar ek het al soveel dae voor die kamera en in die kollig gehad dat ek dit nie nodig het nie,” sê sy.

Haar kêrel van die afgelope 10 jaar, Nicholas Schwartz, gee haar ruimte wanneer sy dit nodig het en daarom werk hul verhouding steeds ná soveel jare. En al glo sy nie aan trou nie, het sy en Nicholas mekaar jare gelede al beloof om vir altyd aan mekaar getrou te bly.

Net so lank as wat sy die rol van Jane Edwards in Egoli gespeel het, net so lank al is sy en Nicholas al bymekaar, en Catriona voel die feit dat sy elke dag opnuut kies om by hom te bly, wys des te meer respek vir die man in haar lewe.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010