SY NOEM haar ongebore baba sommer Pomme Frite. Ja, dis wel kos – die Franse weergawe van aartappelskyfies – maar pomme frites was Catriona Andrew se gunsteling-eetgoed toe sy en haar lewensmaat, Nicolas Schwartz, in Maart in Frankryk gaan ski het, en dit was juis toe dat hul eersteling verwek is.

“Ons kuiertjie was hemels,’’ vertel die sprankelende Catriona – of Cat soos haar vriende haar noem – in ’n Kaapse restaurant. ‘‘En ek was dol oor daardie Franse aartappelskyfies!’’

Sy wou eers die swangerskap stil hou en het g’n woord gerep oor die nuwe mensie wat nou enige dag gebore word nie. En kyk jy die vrou met die lang blonde lokke se fyn lyfie so, kan jy skaars glo in daardie ronde spanspek-magie is ’n baba wat binne dae die eerste lewenslig gaan aanskou.

“Ek het maar sowat 7 kg opgetel en leef steeds gesond. Ons weet wat die baba se geslag is, maar wil niks verklap nie,’’ sê sy net ’n geheimsinnige glimlaggie. “Ek wil self besluit vir wie ek wil sê en wil dit van aangesig tot aangesig doen, oogkontak maak en self mense se reaksie sien.’’

Pomme Frite het darem al ’n regte naam, maar dit bly natuurlik ook vir eers ’n geheim. Een ding wil sy wel aan al wat leef en beef verkondig – haar swangerskap is wonderlik verby en sy geniet elke liewe oomblik. “Soos ek nou voel, kan ek 12 kinders kry; ek is dol oor swangerwees!’’

En haar aanhangers hou duidelik ook van die amper-mamma se bababoepie. Hulle keer haar sommer op straat voor en vra uit. “Hulle noem my óf Cat óf Sam, na my karakter Sam Spencer in Erfsondes,’’ vertel Catriona, “en dan deel hulle vir ’n vale komplimente uit.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 Desember 2010