Catherine Zeta-Jones was ’n “wrak” ná haar man se kankerdiagnose.

Michael het in 2010 gehoor hy het keelkanker in stadium vier nadat hy “nie een nie, nie twee nie, maar drie keer” misdiagnoseer is. Sy vrou erken sy het gesukkel om die nuus te hanteer.

Sy het gepraat by die openingseremonie van die International Federation of Head and Neck Oncologic Societies se vyfde wêreldkongres in New York. Die 44-jarige aktrise het gesê: “Ek was ’n wrak. Ek sal eerlik wees; ek was ’n wrak.

“Ek is getroud met ’n man wat met sulke oortuiging leef . . . hy veg om reg te maak wat verkeerd is. Vir die eerste keer moets hy om sy lewe veg.”

Die 69-jarige Michael – wat ’n dogter, Carys (11), en seun, Dylan (12), by Catherine het – is sedert Januarie 2011 kankervry  en het gesê: “In elke sin van die woord. Ek is baie gelukkig om vandag hier te wees.”

Hy het hulde gebring aan die span by die Memorial Sloan Kettering-kankersentrum en het gesê: “Ons kan ons net indink wat die volgende eeu gaan bring. Dankie dat julle my lewe gered het.”

Die paartjie is ’n kort ruk uitmekaar, maar het weer versoen geraak en is gelukkiger as ooit.