Catherine Zeta-Jones en Michael Douglas het hard gewerk om hul huwelik weer op koers te kry.

Die paartjie het in Augustus aangekondig hulle neem ’n tydelike “ruskans” van hul huwelik van 13 jaar. Hulle het Dinsdagaand by die openingsaand van The Library in New York die eerste keer weer saam op die rooi tapyt verskyn sedert hulle volgens berigte in November verlede jaar herenig het.

’n Jarelange vriend van die twee – wat twee kinders, Dylan (13) en Carys (11), het – het onthul dat hulle het nooit moed verloor nie en het hul verhouding stelselmatig herbou.

Die bron het aan people.com gesê: “Dit is so maklik om net handdoek in te gooi, maar hulle wou daaraan werk. Ek is regtig gelukkig vir hulle.”

Die Walliese aktrise (44) en die 69-jarige akteur het tydens die geleentheid gelukkig en ontspanne gelyk.

Michael se ma. Diana Douglas, het verlede maand bevestig Michael en Catherine is weer saam.

Sy het gesê: “Hulle is saam. Ek het geweet hulle kan dit oorkom. Hulle is albei sagsinnige mense, nie histeries nie. Hulle is altyd baie liefderik en gemaklik met mekaar. Ek het gemeen hoe meer almal uit hul sake bly, hoe beter.”

Die paartjie het ’n paar moeilike jare beleef; Catherine het onthul dat sy aan bipolêre steurnis ly – wat veroorsaak het dat sy tyd in ’n rehabilitasiesentrum deurbring weens depressie – en Michael het ’n stryd gevoer teen tongkanker.