Die Walliese aktrise (46) en haar man, die Hollywood-ster Michael Douglas (71), het in November verlede jaar hul 15de huweliksherdenking gevier.

Tog was hul pad saam nie altyd maanskyn en rose nie. Ná ’n kort skeiding ’n paar jaar gelede, lyk dit of Catherine en Michael se verhouding nou sterker as ooit tevore is.

Die aktrise sê nou sommige egpare gooi te gou handdoek in op wanneer dinge moeilik raak. “Dit is ’n lang pad en ek dink mense gooi deesdae te gou tou op wat die huwelik betref,” het sy tydens ’n onderhoud met die Britse tydskrif Good Housekeeping gesê.

“Jy moenie moed opgee wanneer die eerste probleem opduik nie, want dit gaan beslis nie die laaste probleem wees nie. Daar is nog baie van hulle op pad.”

Lees ook: Angelina Jolie gesels oor haar kroos

Catherine en Michael het hul huweliksherdenking by een van hul geliefkoosde restaurante gevier. Hulle hou daarvan om gehaltetyd saam deur te bring en kon nie die versoeking weerstaan om te peins oor hul verhouding oor die jare nie.

“Ons het gelag oor die feit dat ons mekaar nog nie vermoor het nie – en dat ons nog leef!” het Catherine gespot. “Vyftien jaar is ’n lang tyd. Jy moet die vuur tuis stook!”

Die egpaar het al ’n hele paar struikelblokke oorkom, onder meer toe keelkanker in 2010 by Michael gediagnoseer is, toe in 2011 ontdek is Catherine is bipolêr en ’n kortstondige skeiding in 2013.

Catherine erken daardie paar rowwe jare het aansienlike druk op hul gesin geplaas. Veral op hul twee kinders, Dylan (15) en Carys (12).

“Ons het dit so privaat moontlik probeer hou, maar ons loopbane maak dit moeilik,” het die ster gesê.

Lees ook: Hugh Jackman: ‘My vrou is die beste’

“Ek het aan die ander kant ook nie genoeg met ander mense daaroor gepraat nie. Dit is een ding wat ek meer dikwels moes gedoen het. Dit was moeilik om my kinders te antwoord toe hulle wou weet of hul pa gaan doodgaan. Ek is bly dit is een ondervinding wat ons agter ons kan sit.”

Die aktrise het ook verklap sy was verlig oor die diagnose dat sy bipolêr is, want dit het ’n groot klomp onsekerheid en vrese opgeklaar. Volgens haar was “die feit dat die siekte ’n naam het die beste ding wat met my kon gebeur.

Die feit dat my emosies ’n naam gehad het en die feit dat ’n professionele mens die simptome met my kon bespreek, was uiters bevrydend.

Daar is verstommende hoë hoogtepunte en uiters lae laagtepunte. My doelwit is om gedurig in die middel te bly.

Ek is op die oomblik op ’n baie goeie plek. Die feit dat ek nou aansienlik meer weet van dit wat ek ’n pyn in my alie noem, het baie daarmee te doen.”

© Cover Media