Die nuus dat hertogin Catherine haar tweede baba verwag, kom ’n jaar en twee maande nadat sy by die St. Mary’s-hospitaal in Londen die lewe aan prins George geskenk het.

Sky News se koninklike korrespondent is deur die Kensington-paleis ingelig dat die hertogin minder as 12 weke swanger is.

Die paleis het gesê koningin Elizabeth en prins William en Catherine se familielede is “verheug” oor die nuus.

Catherine sukkel blykbaar weer met kwaai oggendnaarheid, soos met haar eerste swangerskap. Dokters behandel haar blykbaar by die Kensington-paleis, waar sy en William ’n woonstel deel. Die paleis het gesê sy gaan nie haar man Maandag by ’n beplande verskyning in Oxford vergesel nie.

'Die koningin en lede van albei families is ingenome met die nuus.'

’n Verklaring van die paleis lees: “Hul koninklike hooghede die hertog en hertogin van Cambridge is verheug om aan te kondig die hertogin van Cambridge verwag hul tweede kind.

“Die koningin en lede van albei families is ingenome met die nuus.

“Soos met haar eerste swangerskap ly die hertogin aan hyperemesis gravidarum.”

Toe sy met haar vorige swangerskap met die toestand sukkel, moes sy in die King Edward VII-hospitaal in sentraal-Londen opgeneem word.

Haar hospitaalopname het aankondiging van die swangerskap vroeër as beplan laat gebeur.

Al was sy nog nie 12 weke swanger nie – die algemeenste tyd om die swangerskap bekend te maak – het paleisbeamptes besef hulle sou nie langer haar toestand kon verbloem nie.

Die paartjie se tweede kind sal die vierde troonopvolger word; prins Harry word dan die vyfde troonopvolger.

Bronne: Sky News, Cover Media