Die hertogin Catherine was bekend as Kate Middleton voor sy in 2011 met prins William getroud is.

’n Vyfde (19 persent) van die vroue wat deelgeneem het aan die opname, het die hertogin se lang, blink lokke gekies as die mooiste. Kort op haar hakke, met 16 persent, was die Drunk in Love-sangeres.

Een deelnemer het gesê: “Kate Middleton het pragtige hare. Ek is seker sy het slegte dae, maar ons sien haar nooit met ’n haar uit sy plek nie. Haar hare lyk mooi los of deftig opgekam. Ek sou wát wou gee vir sulke hare!”

Die werklikheidster Kim was derde met 15 persent. Holly Willoughby, ’n aanbieder van This Morning, was vierde.

Jennifer Aniston beklee die sesde plek met nege persent van die stemme.

Louise Martin, ’n woordvoerder vir PromotionalCodes.org.uk, het aan die Express gesê: “Die vroue het almal pragtige, natuurlike lokke, vol bons, lewe en natuurlike glans. Al het hulle natuurlik ’n span stileerders tot hul beskikking, is ons steeds groen van jaloesie oor hul kroon.”